Afrikaans NUUS, 20 February 2019

Written by on 20/02/2019

Nuus by Michelle Augus

HOFSAAK

Vonnisopleggingsprosedures in die saak teen die voormalige eiendomsmagnaat Jason Rohde word vandag voortgesit in die hooggeregshof in Kaapstad. Rohde is verlede jaar skuldig bevind aan die moord op sy vrou Susan. Rohde se ma, Brenda, het vroeër ter strafversagting getuig. Sy het gesê hy het nooit tekens van aggressie getoon nie en ‘n goeie mens is.

BRAND GEVAL

Brandspanne probeer steeds om die brand in die berge by Fransschoek in die Boland onder beheer te bring. Die brand het Maandag in Mooiwater begin en het reeds ‘n groot gebied plantegroei vernietig. Meer as 170 brandbestryders, vyf helikopters en nege brandweerwaens spook om die brand te blus. Die gebied is grootliks ontoeganklik vir grondspanne. Geen eiendom word bedreig nie. Die Franschhoekpas, wat voorheen gesluit was, is weer vir verkeer oopgestel.

DWELM BUST

Twee vermeende dwelmsmokkelaars verskyn vanoggend in die landdroshof op Knysna. Dagga ter waarde van bykans miljoen rand is Maandag gevind toe die Valke ‘n voertuig op die N2 naby die dorp van die pad afgetrek het. Die woordvoerder van die Valke sê hulle het inligting ontvang dat ‘n groot besending dagga van die Oos-Kaap na George onderweg was. Beslag is gelê op 18 sakke dagga asook die voetuig van die verdagtes.

FIETSRY GELEENTHEID

Honderde professionele en amateur bergfietsryers word die naweek by die 25 ste jaarlikse Oubos bergfietsmarathon op George in die Suid-Kaap verwag. Fondse wat ingesamel word, is ten bate van die oudste skool op George, die Blanco laerskool, waar kinders reeds sedert 1847 onderrig word. Die organiseerder, Julanda Viviers, sê dit is een van die skouspelagtigste bergfietsroetes in die streek.

OPTOG

Die mynwerkersvakbond, NUMSA, in die Wes-Kaap sê hulle steun vandag se SAFTU optog na die parlement waar die Minister van Finansies, Tito Mboweni, sy begrotingsrede gaan lewer. Die optog is om teen werkloosheid te betoog. NUMSA voorspel dat werkloosheid gaan toeneem in die lig van die aankondiging dat Eskom ontbondel gaan word. Die vakbond sê hy steun ook die nasionale staking wat SAFTU aanstaande maand beplan. Die doel van die staking is om werkgeleenthede en ‘n bestaansloon vir almal te eis asook die vervolging van mense wat by korrupsie betrek word. Die optog begin oor *sowat ‘n uur in Kaizergracht. Saftu-lede eis onder meer ‘n “volksbegroting”. Die vakbodfederasie sê die afgelope 25 jaar se begroting was vir die rykes, en min is gedoen vir die armes van die land. Lede betoog ook teen die privatisering van Eskom.

LAND BEGROTING

Die IVP het die Minister van Finansies, Tito Mboweni, gewaarsku om te midde van die komende verkiesing nie ‘n begroting ter tafel te lê om die guns van die mense te wen nie. Mboweni sal vanmiddag vir die eerste keer ‘n begroting in die parlement voorlê. Hy sal na verwagting finansiële bystand vir Eskom aankondig. Die IVP sê Mboweni moet sorg dat belastingbetalers se las verlig word. Die party stel onder meer voor dat BTW tot 14 persent verlaag word en dat heffings op brandstof afgeskaf word.

 

 

 


Reader's opinions

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


Zibonele FM

Zibonele FM

Current track
TITLE
ARTIST

Background
%d bloggers like this: