Afrikaans nuus by Michelle Augus

Written by on 25/02/2019

 

Nuus by: Michelle Augus

PROJEK IN DIE POLISIE DIENS

Die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, Alan Winde, sê ‘n loodsprojek wat daarop gemik is om vrywilligers te kry om Kommissarisse van Ede te word, het geblyk ‘n groot sukses te wees. Die doel daarvan is om polisielede van administratiewe pligte vry te stel. Winde sê regeringsvrywilligers bestee sowat vier ure per dag in ‘n veiligheidskiosk naby die Kaapstadse Sentraal-polisiestasie om dokumente te sertifiseer. Hy sê tot dusver is meer as duisend-500 mense gehelp. Winde sê dit is verblydend dat diegene wat ure moes wag in lang rye, nou vinnig geholpe raak.

BEHUISING PROJEK

Die burgemeester van Kaapstad, Dan Plato, het aangekondig dat meer as R2 miljard opsy gesit is vir die ontwikkeling van nuwe behuisingsgeleenthede oor die medium termyn. Plato het die media in Kaapstad ingelig oor die stad se toekomstige behuisingsplanne oor die volgende drie jaar. Hy sê R590 miljoen wat begroot is vir die huidige finansiële jaar, is opsy gesit vir die toekenning van 36 behuisingsontwikkelings wat in die beplanningsfase, aan die gang is of in die proses is om gefinaliseer te word. Plato sê nog R4 miljard is toegewys vir die ontwikkeling van informele nedersettings. Plato sê R850 miljoen van die R4 miljard-rand word opsy gesit vir opgraderings aan informele nedersettings en agterplaasdienste.

ARRESTASIES

Staatsamptenare van die Stad Kaapstad het vier mense gearresteer omdat hulle in besit was van dwelms, vir diefstal en die gebruik van ‘n ongelisensieerde vuurwapen. Wayne Dyson, woordvoerder, sê ‘n 35-jarige vrou is op die Grand Parade in hegtenis geneem vir dwelmbesit en ‘n ander 15-jarige seun is in die gebied gearresteer vir die besit van ‘n vermoedelike gesteelde selfoon. Dyson sê ‘n man is ook gearresteer vir die besit van dwelms in Muizenburg langs die Hoofweg in ‘n gebou wat bekend staan as die “Peppermint Palace”. Hy sê ‘n taxibestuurder met ‘n ongelisensieerde 9mm-pistool met agt rondes ammunisie is ook in hegtenis geneem.

SOEKTOG

Polisie duikers wat deur die NSRI bygestaan word, word vanoggend verwag om hul soektog te hervat vir ‘n Zimbabwiese man wat by Dappat Se Gat langs die R44 tussen Gordonsbaai en Kleinmond vermis geraak het. Die 25-jarige man wat in Kaapstad woon, het glo vanaf die rotse in die water geval naby die brandlyn.

SOEKTOG VIR NOG SLAFOFFERS

Die operasie by die Gloria-steenkoolmyn by Middelburg in Mpumalanga om na nog mense te soek, sal na verwagting vanoggend voortgesit word. Dit is Vrydag gestaak weens gevaarlike gifgas wat steeds ondergronds voorkom. Nog dertien liggame is Vrydag na die oppervlak gebring wat die totale sterftes op 18 te staan bring. Familielede het die naweek die 18 liggame op Middelburg gaan uitken. Daar word gevrees dat nog mense ondergronds kan wees.

OBK KOMMISSIE HERVAT

Die kommissie van ondersoek na die Openbare Beleggingskorporasie hervat vandag sy werksaamhede in Pretoria en sal tot Woensdag duur. Die name van getuies sal eers bekendgemaak word wanneer hulle voor die kommissie verskyn. Die kommissie van van ondersoek na die OBK se sake is verlede jaar in Mei deur President Cyril Ramaphosa opgerig om beweerde ongerymdhede by Afrika se grootste batebestuurder sedert 2015 te ondersoek. Die kommissie se verwysingsterme fokus hoofsaaklik daarop of die OBK beleid of wetgewing verontagsaam in beleggingsbesluite en of ‘n uitgesoekte groep bevoordeel is.

 


Reader's opinions

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


Zibonele FM

Zibonele FM

Current track
TITLE
ARTIST

Background
%d bloggers like this: