Afrikaans nuus, 18 March 2019

Written by on 18/03/2019

Nuus by Michelle Augus

WAAKDIENS

Inwoners van Kaapstad het gisteraand tydens `n nagwaak `n
vurige beroep gedoen vir verdraagsaamheid en vrede in die wêreld. Oud en jonk
het hul medelye betoon met die mense van Christchurch in Nieu-Seeland waar ‘n
man Vrydag 50 mense in twee moskees doodgeskiet het. Die aanval is wyd
veroordeel. Inwoners sê mense van alle gelowe kan vreedsaam saamleef.

HERVATING VAN HOFVAL

Die ondersoek na die dood van Reshal Jimmy wat dood is toe
sy Ford Kuga in Desember 2015 by die Wildernis in die Suid-Kaap aan die brand
geslaan het, sal na verwagting vandag in die Hooggeregshof in Kaapstad begin.
Daar moet vasgestel word of die motormaatsappy, Ford, vir sy dood
verantwoordelik is. Afriforum se hoofondersoeker, Andrew Leask, staan Jimmy se
familie by.

BRANDSTOF STYGING

Die motorvereniging sê brandstof- en padongelukfondsheffings
wat vanaf 1 April in werking tree, sal na verwagting die petrolprys tot 16 rand
stoot. Petrol sal met minstens 96 sent per liter styg, met diesel met 69 sent
per liter volgende maand. AA-woordvoerder, Layton Beard, sê ‘n styging van 15
sent vir die algemene brandstofheffing en vyf sent vir die
padongelukfondsheffing wat in April sal implementeer word.

PAD ONGELUK

Dertien mense is dood in ‘n botsing tussen twee voertuie op
die N12 in Westonaria aan Gautengse Wes-Rand. Sewe ander mense is beseer toe
die bakkie en ‘n passasiersmotor reg van voor teen mekaar gebots het. Die
polisie is besig om die oorsaak van die botsing vas te stel.

BEURTKRAG

Eskom verwag dat die kragsituasie teen Donderdag sal begin
stabiliseer en dat ‘n laer fase beurtkrag moontlik toegepas kan word. Fase
4-beurtkrag is weer vanoggend om 9-uur ingestel en sal waarskynlik tot Woensdag
toe van toepassing wees. Eskom wag nog vir die kragvoorsiening van Cahora Bassa
in Mosambiek om herstel te word nadat dit deur die sikloon Idai onderbreek is.
Verskeie kragopwekkingseenhede is ook buite werking.

STAATSKAPING KOMMISSIE

Die geregtelike kommissie van ondersoek na staatskaping gaan
vanoggend in Johannesburg voort met getuienis oor die staatsbeheerde Denel. Die
direkteur-generaal van die departement van Openbare Ondernemings, Kgathatso
Tlhakudi, sal onder meer getuig. Die voormalige adjunkminister van Finansies,
Mcebisi Jonas, se regsverteenwoordiger, Wim Trengrove, het Vrydag ‘n verklaring
van die Gupta-broers betwyfel waarin hulle aangedui het dat `n vergadering
tussen Jonas, Duduzane Zuma en Fana Hlongwane nooit plaasgevind het nie.
Trengrove het ook twyfel uitgespreek oor die karakter van die voormalige hoof
van die Valke, Berning Ntlemeza en sy geloofwaardigheid. Volgens Trengrove is
Ntlemeza se aanstelling weens meineed opgeskort.


Reader's opinions

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


Zibonele FM

Zibonele FM

Current track
TITLE
ARTIST

Background
%d bloggers like this: