Afrikaans nuus, 05 April 2019

Written by on 05/04/2019

Nuus by Michele Augus

BRAND VOORVAL

‘n Ses-jarige meisie het doodgebrand en twee mans is beseer
toe ‘n huis in Gugulethu op die Kaapse Vlakte afgebrand het. Die Kaapstadse
brand- en reddingsdienste sê met hul aankoms op die toneel het brandbestryders
gesien dat ‘n persoon in die huis is. Die beseerde mans is op die toneel
behandel. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

DEBAT KANSELASIE

‘n Regstreekse politieke debat op televisie vanuit Hangberg
in Houtbaai moes gestaak word toe die gehoor oproerig geraak en mekaar later
met stoele toegetakel het. Die gehoor het veral die ANC en DA gekritiseer omdat
hulle niks doen vir die gemeenskap nie. Die verteenwoordigers van tien
politieke partye was op die verhoog toe stoele rondgegooi is. Die chaos het
uitgebreek toe ‘n verteenwoordiger van die BLF gepraat het.

HEROPENING VAN N2

Die George-munisipaliteit sê die N2-deurpad by Thembalethu
is weer vir verkeer oopgestel. Die pad is vroeër vanoggend gesluit nadat
voorvalle van klipgooiery uitgebreek het. Die polisie moes gisteraand
skokgranate inspan om betogers uit een te jaag wat probeer het om die deurpad
te versper. Die munisipaliteit sê wetstoepassers monitor die situasie.

HOF VERSKYNING

‘n Boer van Vredendal is vandag weer in die plaaslike
landdroshof waar hy tereg sal staan op ‘n aanklag van aanranding. Wilfred
Stephan word daarvan beskuldig dat hy ‘n hawelose man, Piet van Zyl met ‘n
staalpyp geslaan het. Sy been is op drie plekke gebreek. Stephan is in Desember
in hegtenis geneem op ‘n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te
beseer. Hy is op borgtog van duisend rand vrygelaat. Stephan, wat ‘n lid van
die DA en Afriforum was, is, is sedertdien uit die party en die organisasie
geskors hangende die uitslag van die saak.

ADVERTENSIE REGTE VIR POLITIEKE PARTYE

Die Onafhanklike Kommunikasieowerheid, Okosa, sê hy meen dat
gratis advertensiegleuwe vir politieke partye op uitsaaiplatforms geregverdig
is. Okosa het in Centurion vergader met die politieke partye wat aan die
verkiesing op 8 Mei gaan deelneem. Die regulerende liggaam sê die toekenning
van advertensiegleuwe word gedoen ooreenkomstig artikel 7 van die Wet op
Elektronika. Agt-en-veertig politieke partye neem aan die verkiesing deel.


Reader's opinions

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


Zibonele FM

Zibonele FM

Current track
TITLE
ARTIST

Background
%d bloggers like this: