Afrikaans nuus, 17 April 2019

Written by on 17/04/2019

Nuus by Michelle Augus

VERGADERING MET INWONERS

Die burgemeester van Kaapstad, Dan Plato, het ná ‘n
vergadering met inwoners van Khayelitsha die versekering gegee dat die kwessie
oor hoë munisipale waterrekeninge, ondersoek sal word. Inwoners het verlede
week protes aangeteken oor die hoë waterrekeninge en gebrekkige dienste.
Sommige inwoners se rekeninge beloop tot soveel as 130-duisend rand. Plato sê
klagtes moet by die metro aangemeld word, sodat daar ondersoek na die kwessie
ingestel kan word.

UITSETTINGS VAN INWONERS

Meer as twintig gesinne word deur uitsetting in die gesig
gestaar nadat die Landbounavorsingsraad aangekondig het dat hy sy
Citrusdal-proefplaas in die Wes-Kaap aan ‘n private instansie gaan verhuur.
Volgens die gesinne op die proefplaas woon hulle al dekades op die grond. Die
direkteur van die Landelike en Plaaswerkersontwikkelingsorganisasie, Billy
Claasen, sê LNR moet hulle toelaat om op die plaas aan te bly.

VERNIETIGING VAN VUURWAPENS

Gun Free South Africa sê die vernietiging van beslag gelê en
oorgegeede vuurwapens moet meer gereeld gebeur as die polisie die vloei van
ongelisensieerde gewere in die land wil bekamp. Die organisasie het kommentaar
gelewer op die beplande vernietiging van meer as 30 duisend vuurwapens vandag.
Die wapens is tydens die polisiebedrywighede inbeslag gelê. Die laaste sodanige
vernietiging het plaasgevind in Oktober 2016.Die polisieminster, Bheki Cele, en
die nasionale kommissaris, Kehla Sithole sal die vernietiging waarneem vandag.

BRANDSTIGTING VOORVAL

Die Oos-Kaapse polisie het drie vroue in hegtenis geneem in
verband met brandstigting in KwaKhanyayo by Lusikisiki. Verskeie families is
dakloos gelaat en skole ontwrig in die onrus tussen die gemeenskappe van Zitha
en Sicambeni oor gebiedsafbakening. `n Woordvoerder van die polisie, Khaya
Tonjeni, sê `n taakspan het Maandag die aanvalle in die Zitha-gemeenskap
ondersoek. Hy sê drie vroue van tussen 54- en 64-jaar oud, is van brandstigting
aangekla. `n Man is ook aangekeer in verband met ‘n aanval verlede maand waarin
`n man doodgeskiet is nadat hy van ‘n tradisionele seremonie teruggekeer het.
Al vier verdagtes sal vandag in die Mthontsasa-streekshof verskyn.

SLUIPMOORN ONDERSOEK

Die AK-47-aanvalsgeweer wat vermoedelik gebruik is in die
sluipmoord op die voormalige sekretaris-generaal van die ANC-Jeugliga, Sindiso
Magaqa, kan ook nagespoor word na ‘n transitorooftog in KwaZulu-Natal. Die
ondersoekbeampte in die moord op Magaqa in 2017, Jim Sekana, het gister in die
borgaansoek van die drie verdagtes in die Umzimkhulu-landdroshof getuig.
Volgens Sekana het die verdagtes die moord die vorige jaar reeds begin beplan.
Magaqa was tydens sy dood ‘n raadslid in die Umsimkhulu-munisipaliteit en het
hom daarvoor beywer om tenderkorrupsie bloot te lê.


Reader's opinions

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


Zibonele FM

Zibonele FM

Current track
TITLE
ARTIST

Background
%d bloggers like this: