Afrikaans nuus, 29 April 2019

Written by on 29/04/2019

Nuus by Michele Augus

BRAND VOORVAL

‘n Onbekende man is dood toe twee woonstrukture agter ‘n
huis in Nyanga op die Kaapse Vlakte vroeg vanoggend aan die brand geslaan het.
Die nooddienste sê die slagoffer is in die puin van die uitgebrande hut ontdek.
Die oorsaak van die brand is nog onbekend. Die huis is nie deur die brand
geraak nie.

BEKENDSTELLING VAN BEHUISINGSPROJEK

Die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, en die provinsiale
minister van Behuising, Bongonkosi Madikizela, gaan vandag ‘n behuisingsprojek
van 200 miljoen rand in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte bekendstel. Die
projek sal tot voordeel wees van inwoners van die Kosovo informele woongebiede
en agterplaasbewoners van New Woodlands. Die projek is ‘n gesamentlike
inisiatief met die stadsraad. Die doel is om 50-duisend behuisingseenhede te
bou.

NUWE TREINE

Twee nuwe treine wat onlangs in Kaapstad bekendgestel is, en
hopelik die druk op vervoer vir pendelaars sal verlig, sal na verwagting binne
die volgende drie maande in bedryf gestel word. Prasa het die treine vroeg in
April bekendgestel, maar die DA voel nou dat dit bloot ‘n verkiesingsfoefie van
die ANC was omdat die treine nog nie die stasie verlaat het nie. Die
Departement van Vervoer het ontken dat dit die geval is.

BYKOMENDE POLISIELEDE

Die nasionale ministerie van polisie sê hy sal op ‘n gepaste
tyd reageer op ‘n brief deur die Wes-Kaapse minister van Gemeenskapsveiligheid,
Alan Winde, rakende die noodsaaklikheid van bykomende polisielede. Winde het
die Minister van Polisie, Bheki Cele, gevra om dringend aan die kwessie aandag
te gee. Cele se woordvoerder sê die ministerie sal binnekort ‘n verklaring
uitreik in antwoord op opmerkings wat Winde gemaak het. Hy sê hulle sal ook
uitspel watter maatreëls reeds getref is om te verseker dat inwoners in die
Wes-Kaap veilig is.

HOF VERSKYNING

‘n Akademikus van die Wes-Kaap, professor Sean Davison, is
vandag terug in die landdroshof in Kaapstad. Hy word aangekla van moord met
voorbedagte rade. Davison, wat ‘n voorstaander van bygestane selfdood is, het
‘n motorneuron-lyer, Justin Varian in 2015 in ‘n woonstel in Kaapstad gehelp om
homself om die lewe te bring deur versmoring. Davison is in September 2017 in
hegtenis geneem vir Varian se moord. Hy het in 2013 ook die 43-jarige doktor
Anrich Burger bygestaan om sy lewe te beëindig toe hy aan hom dodelike middels
verskaf het. Dié saak is nog hangend. Die professor was ook betrokke in Nieu
Seeland by die bygestane selfdood van sy ma, waarna hy vyf maande in huisarres
deurgebring het. Davison is op die oomblik uit op borgtog.


Reader's opinions

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


Zibonele FM

Zibonele FM

Current track
TITLE
ARTIST

Background
%d bloggers like this: