Iindaba zesiXhosa, 06 eyeSilimela 2019

Written by on 06/06/2019

GEEN VERDERE OORSTROMINGS

Rampbestuur in Kaapstad sê daar was geen verdere oorstromings aangemeld na gister en Maandag se reën nie. ‘n Opname van die skade wat in Khayelitsha, die Strand, Gugulethu en Crossroads aangerig is, is nog aan die gang. Die weerdiens sê dit is nog koud en enkele buie kom voor, maar dit sal later vandag opklaar. Ligte sneeu kan op die Matroosberg naby Ceres gesien word. Sneeu word op bergspitse in die suidweste en suidwestelike gebiede van die Wes-Kaap verwag. Nog ‘n kouefront word Maandag verwag.

WALVIS KARKAS

Die Kaapstadse Metro sê die karkas van ‘n boggelrugwalvis naby die hawe hou nie ‘n risiko in vir strandgangers of ander mense langs die kus in nie. Die tienmeterlange karkas het Dinsdagaand suid van die Swartriviermonding uitgespoel. Die burgemeesterskomiteelid vir die omgewing, Marian Niewoudt sê die karkas kan nie op die oomblik bereik word om dit te verwyder nie nie. Sy sê hulle monitor die situasie en sodra die karkas na ‘n beter plek skuif, sal die stad dit verwyder.

VELDBRAND VERSLAG

Die versekeringsmaatskappy Santam sal vandag ‘n verslag bekendmaak oor navorsing wat gedoen is na een van die Wes-Kaap se ergste veldbrand-rampe. Sewe mense is dood en meer as twee miljard rand skade is aangerig deur die brand wat op 7 Junie 2017 in Knysna en die Eden-distrimunisipaliteit uitgebreek het. Santam het na die ramp die WNNR, die Navorsingsalliansie vir Ramp- en Risikovermindering en die Brandingenieursnavorsings-eenheid by die Universiteit van Stellenbosch gevra om navorsing oor die oorsaak van die brand te doen. Die bevindings van die navorsing sal na verwagting aanbevelings insluit oor hoe om veldbrandrampe beter te bestuur. Die verslag het bykans twee jaar geneem om saam te stel en sal in Kaapstad bekendgestel word in die aanloop tot die tweede herdenking van die ramp.

RESERWEBANK VERSLAG

Ontleders sê die Reserwebank en die minister van Finansies, Tito Mboweni, se reaksies sal bepaal hoe markte reageer op die voortslepende debat oor die bank se mandaat. In die jongste voorval het sowel die Minister as die ANC se hoof van Ekonomiese Transformasie, Enoch Godongwana, skerp gereageer op die verklaring wat deur die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule voorgehou is oor die uitbreiding van die Reserwebank se mandaat. Magashule het gesê die mandaat sal aangepas word om sogenaamde kwantitatiewe verslapping in te stel. Mboweni het in reaksie gesê die regering bepaal die Reserwebank se mandaat en word gelei deur die Grondwet, terwyl Godongwana gesê het die ANC het ‘n besluit geneem om nié in te meng by die mandaat van die sentrale bank nie. Die ontleder, Liston Mentjies sê dié tipe besprekings skep meer onsekerheid, maar beleggers sal nie afgeskrik word nie.

GEVOLGE VAN AANVALE OP VRAGMOTORS

Die bestuurshoof van die Padvragvereniging, Gavin Kelly, sê daar is ‘n groot mate van vrees in die bedryf weens die voortslepende aanvalle op vragmotors op die N-3 en ander hoofpaaie. Hy sê roetes en tye word verander, maar dit het ‘n koste-implikasie omdat alternatiewe roetes langer kan wees. Kelly sê dié faktore het ‘n uitwerking op die volhoubaarheid en die winsgewendheid van vervoermaatskappye. Hy sê weens die aanvalle op vragmotors waar die voertuie aan die brand gesteek is, oorweeg sommige maatskappye nou om hulle deure te sluit. Hy sê die maatskappye probeer wyses vind om die finansiële skade te beperk. Kelly waarsku dat werkloosheid kan toeneem indien van die maatskappye genoop word om te sluit. Die afgelope drie weke is meer as 60 vragmotors aan die brand gesteek. Een en negentig mense is in hegtenis geneem.


Reader's opinions

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


Zibonele FM

Zibonele FM

Current track
TITLE
ARTIST

Background
%d bloggers like this: