Afrikaans nuus, 10 June 2019

Written by on 10/06/2019

Nuus by Michelle Augus

HOFVERSKYNING

‘n Vyftienjarige seun van Philippi-Oos op die Kaapse Vlakte verskyn vandag in die hof op aanklagte wat verband hou met ‘n gewapende roof by ‘n hoërskool in Kaapstad. Die seun, wat ‘n leerling van die skool is, en nog ‘n persoon het na bewering leerlinge en ‘n onderwyser by die skool met ‘n vuurwapen aangehou en beroof. Die polisiewoordvoerder, André Traut, sê die verdagte is met behulp van sekuriteitskameras geïdentifiseer. Ses selfone wat na bewering tydens rooftog gesteel is, is by sy huis gevind.

EERSTE VROU BEDRYFSHOOF VAN BRAND EN REDDINGSDIENS

‘n Brandbestryder van die Kaapstadse metroraadraad, Arlene Wehr het die eerste vrou geword wat as bedryfshoof van die Brand- en Reddingsdiens in die Wes-Kaap aangestel is. Sy is eerste vrou wat so ‘n hoë posisie bekleë sedert die stigting van die diens in 1845. Wehr was een van die eerste vrouebrandbestryders in die provinsie en het in 1996 vir die stadsraad begin werk. Sy is oorspronklik van Mitchell’s Plain en sê sy het haar werk in die privaatsektor bedank om die gemeenskap te dien.

WEERDIENS

Die Weerdiens in Kaapstad het ‘n waarskuwing uitgereik oor stormsterk wind en ‘n groot moontlikheid van wegholveldbrande vandag in dele van die Wes-Kaap. Nog ‘n kouefront het oor die gebied inbeweeg en onstuimige seetoestande word verwag. Die weerkundige, Lebogang Makgati sê ligte reën en koue temperature word voorspel. Die gebiede waar veldbrande kan voorkom sluit in die Breederiviervallei, die Sentraal-Karoo en die Suid-Kaap.

SOEKTOG NA POLISIE AANVALLERS

Niemand is nog in hegtenis geneem ná lede van die polisie en die Johannesburgse metropolisie gisteraand in die middestad aangeval is nie. Die Gautengse polisiewoordvoerder, Mathapelo Peters, sê polisielede is nie beseer nie, maar verskeie polisievoertuie is beskadig en versperrings is aan die brand gesteek. Die polisie het ‘n klopjag uitgevoer op ‘n gebou waar smokkelware geberg word. Die groep wat die polisie aangeval het, was vermoedelik buitelanders. Die polisie sê die voorval word ondersoek.

ANC VERTONING

Die ANC se provinsiale leierskap in KwaZulu-Natal het bestek geneem van die party se vertoning in verlede maand se verkiesing. Die party se provinsiale uitvoerende komitee het die afgelope naweek vergader. Die ANC se steun het van 64 persent in 2014 tot 57 persent in verlede maand se verkiesing afgeneem. Die ANC se provinsiale voorsitter, Sihle Zikalala, sê verdeeldheid in die party en gebrekkige dienslewering is van die grootste redes waarom die party se steun afgeneem het. Hy sê ander redes is swak dissipline en korrupsie.


Reader's opinions

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


Zibonele FM

Zibonele FM

Current track
TITLE
ARTIST

Background
%d bloggers like this: