Afrikaans nuus, 19 June 2019

Written by on 19/06/2019

nuus by Michelle Augus

VONNIS OPLEGGING

Professor Sean Davison, is effektief tot drie jaar huisarres in die hooggeregshof in Kaapstad veroordeel nadat hy ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Hy is aangekla van drie aanklagte van voorafgemiddelde moord wat die selfmoord van Anrich Burger, Justin Varian en Richard Holland insluit. In ‘n kort voorkoms in die hooggeregshof het Davison ‘n agt jaar vonnis ontvang met vyf jaar opgeskort. Dit beteken dat hy nie enige tronkstraf sal dien nie. Hy is ook vir drie jaar onder korrektiewe toesig geplaas wat huisarres betref. Hy sal egter kan voortgaan om te werk, kerk toe gaan en mediese besoeke tedoen. Die hof het ook gehoor dat die families van die drie mans ooreengekom het dat Davison nie tronk toe gestuur moet word nie.

MEDIA VRYSTELLING

Die DA sê townships in Suid-Afrika het dormante gebiede van werkloosheid geword. Die leier van die DA, Mmusi Maimane, het die media by die parlement in Kaapstad toegespreek, oor die DA se vertoning waar dié party in beheer is. Maimane sê werkloosheid is een van die grootste krisisse in die land. Hy is vergesel deur die Wes-Kaapse premier, Allan Winde, die burgemeester van Kaapstad, Dan Plato, en die burgemeester van die Tshwane Metro, Stevens Mokgalapa.

RASSISTIESE VOORVAL

Die DA-parlementslid, Phumzile van Damme, het uitgevaar teen die V&A Waterfront in Kaapstad oor ‘n beweerde rassistiese voorval. Van Damme het op sosiale media gesê sy het bedreig gevoel en ‘n man oor die kop geslaan nadat hy haar verbaal geteister het. Sy het haar ook sterk uitgespreek teen die bestuur van die Waterfront, wat glo die man en sy vriende, toegelaat het om die perseel te verlaat sonder dat enige verdere stappe gedoen is.

PAD VELDTOG

Die Kaapstadse Verkeersdepartement en metropolisie het 182 voertuie geskut sedert die veldtog wat op taxi’s gemik is sowat ‘n maand gelede begin het. Die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, JP Smith, sê 55 verdagtes is aangekeer vir verskeie oortredings en nagenoeg 4-duisend sewehonderd boetes is uitgereik. Smith sê hulle teiken spesifieke gebiede in reaksie op voortdurende klagtes oor die padgedrag van bestuurders wat die publiek vervoer. Smith sê wetstoepassing is maar net een skakel in die ketting.

SALARISSE VERSKIL

Die Departement van Kommunikasie sê dit is die verantwoordelikheid van die SAUK-raad om te verseker dat personeel se salarisse betaal word. Dit volg na berigte die naweek dat die SAUK moontlik nie aan die einde van die maand salarisse sou kon betaal nie weens die openbare uitsaaier se skuldlas. Die SAUK se hoof finansiële beampte, Yolande van Biljoen, het egter daarna gesê hulle verwag dat salarisse wel betaal sal word, maar dat daar ‘n kans is dat uitsendings weens onbetaalde diensverskaffers onderbreek kan word. Die direkteurgeneraal van die Departement, Nomvuyiso Batyi sê ‘n tegniese span is aangestel om die SAUK te help met sy aansoek vir ‘n regeringswaarborg. Sy sê die kwessie word as dringend beskou en die span vergader elke week en verskaf terugvoer aan die SAUK-raad en die minister.


Reader's opinions

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


Zibonele FM

Zibonele FM

Current track
TITLE
ARTIST

Background
%d bloggers like this: